Taalpos 1

Die volgende sinne verskyn tussen 4 en 9 Januarie 2021 op webbladsye van Netwerk24, Vrye Weekblad en LitNet. Waarop moet die teksredakteur in elk van hierdie sinne let?

Mense het gesê hulle het die skudding in dele van Noordwes en Gauteng, insluitend Pretoria en Johannesburg, gevoel.

Hofmeyr het meer as 290,000 volgelinge op Twitter. 

Suid-Afrika het Vrydag die heel meeste nuwe Covid-19-gevalle sedert die begin van die wêreldwye pandemie aangemeld.

Baie van die werkers is ongeskool of halfgeskool, wat baie moeilik weer werk sal vind.

Die eenstop-aanlynwinkel bied besonderse geskenke.

Kommentaar

  • Mense het gesê hulle het die skudding in dele van Noordwes en Gauteng, insluitend Pretoria en Johannesburg, gevoel.
  • Mense het gesê hulle het die skudding in dele van Noordwes en Gauteng, insluitende Pretoria en Johannesburg, gevoel.

In plaas van die (formele) voorsetselgroep met inbegrip van gebruik ons graag die onvoltooide deelwoord insluitend. (’n Onvoltooide deelwoord, ook teenwoordige deelwoord genoem) is ’n woord wat van ’n werkwoord gevorm word deur die agtervoegsel -end by te voeg.)

Voorbeelde van onvoltooide deelwoorde is:
aangrypend
Predikatief gebruik: Die storie is aangrypend en boei die leser.
Attributief gebruik: Die aangrypende storie boei die leser.
beklemmend
Predikatief: Die vertrek is beklemmend, benoud en bedompig.
Attributief: Die beklemmende vertrek is benoud en bedompig.

As ’n onvoltooide deelwoord in ’n werkwoordelike funksie gebruik word, word die attributiewe vorm gebruik. Voorbeelde van onvoltooide deelwoorde wat werkwoordelik gebruik word, is:
aangaande
Die beste ding aangaande spaar is dat jy jou kan beloon vir goeie gedrag.
betreffende

Geen ander kriminele sake betreffende hierdie voorval is geregistreer of word ondersoek nie.
rakende

Onbuigsame arbitrasieprosesse en beleid en wetgewing rakende die aanstelling en afdanking van werkers is hindernisse vir die aanstelling van nuwe werknemers.
insluitende
In Mei vanjaar pak agt van Betty se familielede, insluitende haar kinders, die tien uur lange tog van Queenstown aan. 


  • Hofmeyr het meer as 290,000 volgelinge op Twitter.
  • Hofmeyr het meer as 290 000 volgelinge op Twitter.

Reël 7.6 van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS, 11de uitgawe, 2016): “Indien daar in getalle meer as drie syfers links óf regs van die desimaalteken is, word die syfers ter wille van leesbaarheid deur spasies (nie kommas nie) in groepe van drie verdeel, getel vanaf die [komma as] desimaalteken.” Byvoorbeeld:
R1 500
R1 500,50
1 500 250,648 901
 vierkante kilometer


  • Suid-Afrika het Vrydag die heel meeste nuwe Covid-19-gevalle sedert die begin van die wêreldwye pandemie aangemeld.
  • Suid-Afrika het Vrydag die heel meeste nuwe covid-19-gevalle sedert die begin van die wêreldwye pandemie aangemeld.

Publikasies (ongelukkig die meeste) wat die naam van dié siekte met ’n hoofletter skryf, wyk af van reël 9.24 van die AWS: “[Slegs] indien die volvorm van ’n woord wat afgekort word, met ’n hoofletter begin, begin die afkorting van die woord ook met ’n hoofletter.”

Die (Engelse) akroniem covid staan vir corona virus disease. Aangesien korona of corona en koronavirus of coronavirus nie met ’n hoofletter geskryf word nie (omdat hulle soortnaamwoorde is), is daar geen goeie rede om covid-19 met ’n hoofletter te skryf nie.


  • Baie van die werkers is ongeskool of halfgeskool, wat baie moeilik weer werk sal vind.
  • Baie van die werkers wat baie moeilik weer werk sal vind, is ongeskool of halfgeskool. 

Die betreklike voornaamwoord wat word gebruik:
1) aan die begin van ’n betreklike bysin;
2) om terug te verwys na ’n reeds genoemde mens of ding wat deur ’n naamwoord benoem word. Byvoorbeeld:

Ape is dikwels gewoond aan mense en sal nie sommer wegskarrel as hulle jou sien nie.
Ape wat naby kampe woon, is dikwels gewoond aan mense en sal nie sommer wegskarrel as hulle jou sien nie.

Daar is heelwat bostoilette op die mark. 
Daar is heelwat bostoilette op die mark wat jou bosablusies gemakliker kan maak.

Hierteenoor doen die sin Baie van die werkers is ongeskool of halfgeskool, wat baie moeilik weer werk sal vind ongrammatikaal aan. 
Beter sou wees: Baie van die werkers wat baie moeilik weer werk sal vind, is ongeskool of halfgeskool. 
Logieser sou wees: Aangesien baie van die werkers ongeskool of halfgeskool is, sal hulle baie moeilik weer werk vind.


  • Die eenstop-aanlynwinkel bied besonderse geskenke.
  • Die eenstop- aanlyn winkel bied besonderse geskenke.

Hoewel party gebruikers aanlyn nog as ’n woorddeel beskou en dit daarom vas aan ’n daaropvolgende naamwoord skryf, is die heersende konvensie dat aanlyn los van die naamwoord geskryf word. In die 11de uitgawe van die AWS is aanlyn as byvoeglike naamwoord (en bywoord) opgeneem.

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans het ’n app wat sowel aanlyn as vanlyn [Let op: nie *aflyn nie] werk.
Ek het die aanlyn app afgelaai.

Sy verkies die vanlyn app.

Op grond hiervan behoort eenstop- aanlyn winkel so, as ’n afstandsamestelling, geskryf te word.