Op grond van watter kriteria word daar besluit ’n teks is goed geskryf, of minder goed? Hoe gaan ’n mens te werk as jy die gehalte van ’n teks wil bepaal?
As vertrekpunt vir teksevaluering gebruik ons die K3-model (in Nederlands die CCC-model) van die Nederlandse teksgehaltespesialis Jan Renkema.
In Carstens en Van de Poel (2010) se handboek Teksredaksie, wat vir opleiding van studente in dié vak gebruik word, word dié model volledig bespreek. Lees hier wat Renkema self daaroor skryf, en hier hoe John Linnegar dié “supermodel” in sy opleiding van teksredakteurs in Engels gebruik.
Die K3-model is ’n hulpmiddel vir enigiemand wat met geskrewe tekste werk. Vir skrywers, manuskripkeurders, teksredakteurs (persklaarmakers, redigeerders, subredakteurs), proeflesers, lesers, resensente, studente … Enigiemand wat oor die kwaliteite en gehalte van tekste wil nadink of iets daaroor wil sê.
Waarom word ’n bepaalde verandering aan ’n teks nodig geag? Hoekom word dit of dat voorgestel, gewysig of geskrap? As ’n uitgewer, skrywer, kliënt sulke vrae begin stel, is die K3-model nuttig om antwoorde te motiveer: Om bepaalde redigeringsbesluite of proefleesveranderinge te help verduidelik, kan teksredakteurs en proeflesers na die K3-model verwys.
As raamwerk vir die riglyne wat ons met verloop van tyd hier wil aanbied – oor verskillende soorte besluite en skaafwerk wat nodig is om tekste van hoë gehalte te produseer en af te rond – gebruik ons dié model.
Wat is dié K3-model presies? Waarvoor staan K3? En hoe word dié drie k’s by skryf en redigeer, persklaarmaak en proeflees gebruik?
Na die verhouding tussen skrywer en leser word daar in die inleiding verwys: ’n Skrywer (behoort te) skryf met ’n spesifieke, ideale teikenleser in gedagte. Tussen die skrywer en dié leser speel ander taalwerkers, teksredakteurs en proeflesers, ’n meestal onsigbare, maar belangrike rol. Nes keurders ook, wie se verslae by boekuitgewers dikwels die teksredaksieproses voorafgaan.
Wanneer ’n taalpraktisyn aan ’n teks begin werk, behoort die eerste vraag altyd te wees: Wie is die teikenleser? Sodat jy jou dan in die skoene van dié ideale leser kan indink. In die geval van kreatiewe skryfwerk moet fiksieredakteurs en -proeflesers dit ook met vertellers en elke karakter afsonderlik doen.
Eers wanneer ’n mens, in jou kop, ’n duidelike prentjie van die leser (en van die karakters in ’n storie) het, wanneer jy deur hulle bril kan kyk, kan jy die skrywer en/of die uitgewer verder aan die taal en aan die teks help skaaf. Doen dit aan die hand van dié model.
Die K3-model bestaan uit vyf hiërargiese vlakke. Vir ’n skrywer wat ’n teks vir ’n spesifieke leser beplan, sê dié model: Voordat jy begin skryf … Hier is vyf dinge waaroor jy moet besluit. Doen dit een vir een, in volgorde van belangrikheid. Vir elk van die vyf vlakke hier bo, van bo na onder.
- Vlak A. Tekstipe: Watter soort teks gaan ek skryf? Watter genre (ver)kies ek?
- Vlak B. Inhoud: Waaroor gaan ek skryf? Wat is die onderwerp, die inhoud waarmee ek gaan werk?
- Vlak C. Struktuur: In watter vorm gaan ek dié inhoud aanbied? Wat is die beste struktuur – vir die inhoud én vir die leser? In watter volgorde gaan ek die inhoud aanbied? Paragrawe, hoofstukke … Gaan my sinne lank of kort wees? En so meer.
- Vlak D. Bewoording: Watter woorde, uitdrukkings gaan ek gebruik? Watter variëteit van Afrikaans? Watter register?
- Vlak E. Aanbieding: Hoe gaan ek die voltooide teks verpak? Gaan dit gedruk word? Gaan dit as e-boek of aanlyn beskikbaar wees? Hoe moet die teks op die bladsy of skerm uitgelê, vertoon word? Moet daar illustrasies, grafieke, ensovoorts, bykom?
Dit is die vyf vlakke waarop ons werk.
Deur elk van hierdie vlakke, van bo na onder deur die model, loop drie kolomme; een vir elkeen van die K’s. Dit is die pilare wat die huis staande hou; die kernaspekte waarom ’n teks gebou word, waarby ’n manuskrip staan of val. Om die teikenleser so goed as moontlik te bevredig, is dit die drie hoofkriteria, hoofmaatstawe waaraan ’n teks moet voldoen.
Die eerste kriterium is …
KORRESPONDENSIE. Vir ’n teks om te slaag, is korrespondensie ’n kernvereiste. Maar wat beteken dit presies? ’n Ander woord vir korrespondensie is ooreenstemming. Iets moet met iets anders ooreenstem. Wat?
Wel, ten eerste moet die teks in ooreenstemming wees – dit wil sê: reg wees – vir die leser. Onthou die inleiding? Aan die een kant is daar die skrywer. Die skrywer het ’n bepaalde doel en bedoeling met die stuk skryfwerk wat hy of sy skep. Aan die ander kant is daar die leser; die persoon wat die skrywer wil hê die teks moet lees. Wie is die leser? Wat is sy/haar opvoedkundige vlak, byvoorbeeld? Wat is die omvang van sy/haar behoefte aan sekere inligting? Hoekom sal die leser die teks (wil) lees? Om ’n bepaalde behoefte te bevredig? Om ’n bepaalde opdrag uit te voer?
Lees, dink na en besluit: Is die keuses wat die skrywer op elk van die vyf vlakke van die K3-model maak, reg en in ooreenstemming met die leser? Ten opsigte van die tipe teks? Ten opsigte van die keuse van die inhoud? Is woordkeuse, stelwyse (formeel, informeel, ensovoorts) gepas? Word die inhoud in ’n geskikte vorm aangebied? Tot watter mate en hoe bevredigend slaag die skrywer daarin om die teks by die behoefte(s) van die teikenleser aan te pas?
Korrespondensie beteken ook die teks moet ooreenstem met – (aan)pas by, geskik wees vir – die medium van publikasie; die platform of voertuig wat die skrywer of uitgewer kies om die teks na die leser te bring. Gaan die manuskrip gedruk word? Word dit ’n e-boek? Is die skryfstuk vir ’n webblad bedoel? Gaan mense dit op hulle slimfone moet kan lees? En so meer.
Die tweede kriterium is …
KONSEKWENTHEID. Konsekwentheid word deur Renkema “die dikwels verwaarloosde maatstaf” genoem. ’n Teks voldoen aan die vereiste van konsekwentheid as al die verskillende keuses wat gemaak word – deur die skrywer, redigeerder, boekontwerper, uitlegkunstenaar, proefleser – deurgaans gehandhaaf word. Byvoorbeeld ten opsigte van woordkeuse (wisselvorme); hooflettergebruik; ’n bepaalde struktuur wat gehandhaaf moet word. Word die inhoud tematies, chronologies of alfabeties aangebied? Word paragrawe genommer, of kolpunte gebruik?
As ’n mens verskillende dele van die teks (begin, middel, einde) met mekaar vergelyk: Is daar wat die vereiste van konsekwentheid betref, enige dissonansie(s) te bespeur? Inkonsekwenthede wat die leser moontlik kan verwar of vervreem?
Vir konsekwentheid is die byhou van ’n styllys noodsaaklik.
Die derde kriterium is …
KORREKTHEID. Voldoen die teks, byvoorbeeld, aan die reëls vir die spesifieke genre wat die skrywer gekies het? Is die inhoud feitelik akkuraat? Word woorde, sinne, paragrawe, hoofstukke korrek verbind? Is die keuse van spesifieke woorde, uitdrukkings korrek en gepas vir die teikenleser? Is elke woord reg gespel? Word leestekens deurgaans korrek gebruik, of kom punktuasie- (interpunksie-)foute voor?
Opleiding, ervaring, algemene kennis … Dit maak die raaksien van foute ongetwyfeld makliker, maar naslaan – deurentyd – bly noodsaaklik.
Afrikaans is ’n lewende taal. ’n Kenmerk van ’n lewende taal is dat dit verander. Taalverandering vind voortdurend plaas en woordeboekmakers probeer soveel as moontlik daarvan in die nuutste uitgawes van hulle woordeboeke en taalgebruiksgidse weerspieël; die Taalkommissie in die Afrikaanse woordelys en spelreëls (die AWS). Die enigste manier om met sekerheid te kan sê alles is reg, is deur jou in die nuutste naslaanbronne van die korrektheid van taalgebruik en woorde te vergewis. Watter woordeboeke, grammatikas, skryfgidse is beskikbaar? Waar? Hoe verskil hierdie bronne van mekaar? Watter is oud? Watter is nuut?
Hier, by ons subdomein Afrikaans Vandag, word intyds aan ’n supplement by die HAT en ander Afrikaanse woordeboeke gewerk.
Die drie K’s
In die K3-model werk die drie kriteria – korrespondensie, konsekwentheid en korrektheid – saam. Deur die vyf teksvlakke en die drie K’s in die vorm van ’n tabel aan te bied, soos hier bo, word ’n rooster met 15 blokke gevorm. Elke blok verteenwoordig een evalueringspunt of ykpunt. Dié 15 punte hang nou saam. As ’n mens hulle in gedagte hou en by die beoordeling van ’n teks een vir een oorweeg, help dit jou om potensiële foute van 15 verskillende soorte (Renkema praat van “fouttinte”) uit ’n teks te wan, om “skakerings” van skryfflaters uit ’n manuskrip uit te sif.
Onthou dat die model van bo na onder en van links na regs gelees word. Redaksionele ingryping moet altyd op die boonste vlak, op vlak A, en in kolom 1 begin. So weeg die drie evalueringspunte op Vlak 1 (EP 1, 2 en 3) die swaarste, terwyl dié op die onderste vlak (EP 13, 14 en 15) die minste gewig dra. Net so is die evalueringspunte in die eerste kolom van bo na onder (EP 1, 4, 7, 10 en 13) belangriker as die punte van bo na onder in die tweede kolom. Die middelste kolom se punte is op hulle beurt weer belangriker as dié van die laaste kolom.
’n Fout by EP 1 of EP 4 vra dus dringender aandag as ’n fout by EP 13 of EP 15.
Anders gestel: Ruim eers die grootste haakplekke uit die weg. Stryk eers die vernaamste probleme uit. Los eers makrokwessies bevredigend op. Gee dán aandag aan swakhede wat makliker uit die weg geruim kan word, probleme wat makliker oplosbaar is. Maak laaste die kleinste foutjies reg … Dit is die werk van die proefleser.
So is die K3-model nie net vir teksanalise nuttig nie, maar dien dit ook as ’n belangrike sif vir die verbetering van ’n teks. As foute op vlak A (wat die tekssoort betref), of foute op vlak B (wat die inhoud betref) nie éérs deur die skrywer of teksredakteur reggestel word nie, gaan noukeurige aandag aan bewoording en punktuasie maar min help om ’n manuskrip bevredigend af te rond.
Jana Luther, Teksredaksie.co.za
© https://creativecommons.org/licenses/by-nc-nd/4.0/