As ’n mens iets skryf, skryf jy dit vir iemand. Vir jouself as ’n dagboekinskrywing vir later? Miskien. Maar meestal ontstaan ’n teks in die hoop dat iemand anders dit sal lees.
Lees niemand nie, of te min mense (daar is verskeie maniere om dit vas te stel), moet ’n mens vra: Hoekom nie?
Is die teks leesbaar (genoeg)?
’n Huis of ’n masjien word gebou aan die hand van ’n vooraf getekende plan, al is dit net ’n ruwe skets. Sonder ’n basiese idee ontstaan geen teks nie. Wanneer jy die moeite doen om woorde te tik of te skryf? Wat is jou doel met die skryf. ’n E-pos? ’n Inkopielys, vir jouself, vir iemand anders? ’n Werksaansoek of bedankingsbrief? ’n Gedig, ’n liefdesverhaal, die volgende groot Afrikaanse roman?
Vir wie skryf jy?
As ’n mens weet vir wie jy skryf, probeer jy sorg dat elke sin, elke paragraaf op dié leser afgestem bly. Maar ’n versorgde teks wat honderd persent doeltreffend moet kommunikeer, soos die taalkundige Johan Combrink gereeld beklemtoon het, is selde die werk van die skrywer alleen. Om skrywers tot so na as moontlik aan hulle einddoel te help bring, is daar teksredakteurs en ook nog ander mense wat tussen die skrywer en daardie lesers wat die skrywer in gedagte het, ’n kleiner of groter rol speel.
Vir bemarking en reklame, ’n webblad of ’n app wat gebou moet word, ontwikkel maatskappye wat dit reg doen, voordat hulle enigiets laat skryf, eers ’n inhoudstrategie. Aan die een kant word haarfyn beplan en besluit: Watter soort inhoud gaan ons skep? Dit is belangrik. Aan die ander kant, terselfdertyd, word vooraf ’n duidelike prentjie van die ideale leser/gebruiker/kliënt saamgestel; die mens(e) vir wie die inhoud geskep gaan word.
Met wie wil ons kommunikeer? Waar is dié persoon? Hoe wil hy of sy graag mee gepraat word? Dit moet ons weet.
As ’n skrywer met dié inligting byderhand die skryftaak reg aanpak, behoort die teikenleser uiteindelik te voel: Hier word direk met my gepraat.
Hoe kry suksesvolle skrywers/maatskappye dit reg?
Hulle doen die moeite om éérs hul teikenleser/-gebruiker/-kliënt te leer ken. Hulle vind soveel as moontlik van hom of haar uit: Hoe oud is hy of sy? Met watter opvoedkundige agtergrond? Waar is die leser? Hoe lyk dit daar waar hy/sy is? Wat is sy/haar probleme, uitdagings, drome, vrese, verwagtings … Vir elke mens is daar spesifieke dinge en maniere van doen waarby hy/sy die beste, grootste aanklank vind.
Voordat jy skryf: Maak dus seker jy skep die regte persona as ontvanger van die vrug van jou arbeid: ’n fiktiewe karakter gegrond op die werklikheid (gee hom/haar ’n naam), laat hom/haar die plek inneem, in jou kop, van die man/vrou/kind met wie jy praat, wat jou voltooide poging moet lees, dit moet geniet en/of iets daaruit moet leer.
Om so ’n persona te ontwikkel, kan jy aanvanklik raai, maar daarna moet jy navorsing doen en, indien nodig, verstellings maak. Teken prentjies. Maak lysies. Werk in Excel; hou inligting in spreitabelle by sodat jy niks vergeet nie. Hoe lyk jou persoon? Fisieke kenmerke? Karaktereienskappe, -trekke? Wat doen hy of sy? Waar? Wat is sy/haar storie?
Hoekom doen jy dit?
Sodat jy as skrywer as ’t ware in jou leser se skoene kan klim. Vorm die duidelikste prentjie wat jy maar kan van die mens(e) wat jy wil hê van jou skryfwerk moet hou, die mens(e) wat jy dink dit die nodigste het of dit die meeste sal geniet.
Deel en bespreek dié navorsing – voor, tydens en na afloop van die skryfproses – met jou uitgewer, redakteur …
Dink na. Oorweeg. Besluit. Dit is die fases wat die skryfproses voorafgaan en ook die fases wat daarop volg, want hierdie selfde fases gaan ook die leesproses vooraf.
Min lesers tel ’n boek op, maak dit oop en begin lees. Dit is onwaarskynlik dat ’n nuwe besoeker aan ’n webblad dadelik elke bladsy volledig gaan bekyk. Skrywers/maatskappye/uitgewers besluit daarom vroeg reeds – ook – op die beste formaat waarin hulle hulle inhoud kan aanbied. Dikwels verskillende formate: papier, e-publikasie, aanlyn; rekenaar, tablet, selfoon …
Vir elke fase waarin ’n teikenleser, -gebruiker of -kliënt hom of haar bevind, is daar ’n formaat, ’n (af)leweringsmiddel, wat beter geskik is as ander. Maak dus seker die manier waarop jy jou inhoud (laat) verpak, voldoen aan die gebruiker se werklike behoefte(s), daar waar hy of sy nou is.
Vir bemarking en reklame kan verskillende middele oorweeg en aangewend word om die teikenleser of -gebruiker se aandag te trek, dit op die inhoud te vestig en dit so lank as moontlik te behou:
- Vir bewusmaking: dalk ’n lys kolpunte of wenke; ’n blog; ’n infografiek of informatiewe illustrasie …
- Vir oorweging: dalk ’n podsending; ’n vergelykingsmatriks of ’n werkblad; ’n webinaar …
- Vir oorhaal tot besluitneming (sal ABC XYZ lees/koop/gebruik?): ’n demonstrasie, gebruiksgids, konsultasie …
Dalk het jy reeds inhoud geskep, of inhoud laat skep. Dalk doen jy dit al ’n geruime tyd, maar sonder ’n duidelike strategie en/of sonder groot of dalk enige sukses? Dan is dit tyd vir ’n inhoudoudit.
Wat het ek? Wat kan ek daarmee doen?
Is jy seker daar is ’n behoefte aan wat jy te sê het? By wie? Het jy ondersoek ingestel, verskillende mense gevra (nie net jou familie en vriende nie)? Kan jy bestaande inhoud moontlik (laat) afstof en aanpas; dit beter aan die behoeftes van jou teikenleser laat voldoen?
Hoe lyk jou inhoud? Hoe oud is dit? Is daar gedeeltes wat herskryf kan/moet word? Is daar gapings wat gevul kan/moet word. Maak ’n lys van wat moontlik gedoen kan word. Wat? Vir wie? Waarom? Deur wie?
Rond ’n voorbeeld af en gaan toets dit eers by jou teikenleser sodat jy betyds nodige aanpassings kan maak. Het jy hulp nodig van ’n teksredakteur? Op die minste gaan jy waarskynlik ’n proefleser nodig hê. En let wel: Die redigering van ’n teks is NIE die verantwoordelikheid van ’n proefleser nie. Redigering is nie proeflees nie; proeflees nie redigering nie.
Oorweeg verskillende verpakkings- en leweringsformate. Onthou jou teikenleser. Gaan hy/sy lees vir werk, opleiding, plesier? Hoe oud is die leser? Op watter leesvlak? Met watter kwalifikasies en belangstellings?
Is dit iemand wat ’n papierboek bo ’n e-boek verkies, of andersom? Is dit iemand wat data kan bekostig en aanlyn (wil) lees? Hoe dan liefs? Op rekenaar, tablet, slimfoon? Is dit iemand wat ’n liefdesroman bo literêre fiksie verkies, niefiksie bo fiksie, en so meer? Is dit iemand wat heeldag aan die beweeg is; daarom liewer na ’n podsending wil luister as ’n blog wil lees?
Dink, wonder, vra. Sodat jy seker is jy kies die beste, regte formaat.
En as jy klaar is? Met jou beplanning én met die skryf?
Dan kom redigering en proeflees en nog ander dinge aan die beurt. Voor en terwyl die inhoud verpak word. Voordat die eindproduk bekend gestel word.
As jy dink jy kan dié stap oorslaan … Dink weer.
Hier is ’n goeie voorbeeld (op 2 Oktober 2019 in die aanlyn tydskrif mooileefstyl.co.za) waarby die noodsaaklike fase van teksredaksie oorgeslaan is.