Die rol van die teksredakteur

  • Die redakteur werk altyd met die leser in gedagte. Die redakteur wéét – vind uit – wie die teikenleser is en sorg dat die skrywer aan dié leser ’n bevredigende leeservaring bied.
  • Die redakteur sit die bril van die skrywer op en sorg dat skryf- en feitefoute die skrywer nie in die verleentheid stel nie.
  • Die redakteur help die boekontwerper en/of setter, die webblad- en/of toepassingontwerpers, illustreerders en ander kunstenaars (byvoorbeeld die makers en verskaffers van interaktiewe aktiwiteite, klankopnames of video’s) deur by die teks riglyne te voeg om seker te maak dit word op die bes moontlike, aantreklikste wyse aangebied, gedruk of op ’n rekenaar-, tablet- of selfoonskerm vertoon.

Die redakteur help die leser

Deur seker te maak dat:

  • die teks ooreenstem met die konvensies van die genre;
  • die struktuur en beredenering koherent is;
  • in die geval van fiksie, die verhaallyn duidelik en samehangend is;
  • die inhoud volledig is;
  • genoeg inligting gegee word; nie te veel nie, nie te min nie;
  • ’n verhaal bevredigend vorder; nie te vinnig of te stadig nie;
  • karakters doeltreffend voorgestel word en bevredigend ontwikkel;
  • die stem en perspektief van die verteller sterk en duidelik is;
  • die einddoel en slot bevredig;
  • daar “genoeg vleis” aan die been is; genoeg spanning, aksie, sensualiteit, en so meer; in die regte verhouding, nie te veel nie, nie te min nie;
  • moeilike terme en afkortings die leser nie onnodig laat struikel nie;
  • vreemde woorde en afkortings voldoende verduidelik word;
  • illustrasies, tabelle, en so meer, relevant is en waarde toevoeg;
  • onnodige herhalings uit die weg geruim word;
  • dubbelsinnighede uitgeskakel word;
  • onpresiese, onnoukeurige, ondoeltreffende woordkeuses deur akkurater keuses vervang word;
  • byvoeglike naamwoorde en bywoorde goed gekies en funksioneel is;  
  • grammatikafoute reggestel word;
  • spelfoute reggemaak word;
  • die gebruik van leestekens nagegaan en korrek is;
  • bronverwysings volledig is, indien die skrywer na werk van ander skrywers verwys.

Die redakteur help die skrywer

Deur:

  • sáám met die skrywer te werk;
  • ’n voltooide stuk skryfwerk met ’n vars oog te benader;
  • (aan die hand van die K3-model; van bo na onder en van links na regs) groot, strukturele probleme te identifiseer;
  • die skrywer se styl te leer ken;
  • dan op die fyn besonderhede te let;
  • van die skrywer se unieke styl bewus te bly;
  • nie onnodig – op grond van persoonlike voorkeure en afkere; sonder goeie rede – aan ’n skryfstuk te verander nie;
  • die skrywer insae te gee in veranderings wat aangebring word, en die geleentheid om daarop te reageer;
  • sinne, paragrawe waar die bedoeling van die skrywer onduidelik was, vir sy/haar aandag te merk, vergesel van vrae en/of redes vir verandering;
  • ingewikkelde kwessies eers met die skrywer te bespreek – saam by ’n tafel, via Skype, telefonies;
  • veranderings versigtig, diplomaties voor te stel.

Die redakteur help ontwerpers en kunstenaars

Deur te sorg dat:

  • die boekontwerper, setter, uitlegkunstenaar, bladopmaker, webmeester … dadelik kan sien hoe ’n teks of teksgedeelte op die bladsy of skerm moet vertoon;
  • die persoon wat die teks op die blad of skerm moet uitlê, vinnig en akkuraat kan werk, sonder dat hy of sy eers die teks hoef te lees (veral belangrik in die geval van Afrikaans, waar ontwerpers dikwels nie die taal ken nie);
  • vir set- en uitleginstruksies min woorde gebruik word en liefs ondubbelsinnige simbole, waarop vooraf ooreengekom word;
  • opskrifte en nommering – hiërargiese vlakke: hoofstuknommers en -titels, hoofopskrifte, subopskrifte – in die geredigeerde manuskrip duidelik gemerk is om seker te maak die ontwerper ken aan elke vlak die regte lettertipe (font), fontgrootte (gewig) en kleur toe;
  • indien die uitgewer of ontwerper ’n reeds bestaande, vooraf opgestelde stylblad of sjabloon verskaf, dit by die persklaarmaak of laai van teks in ’n toepassing gebruik en reg gebruik word;
  • die invoeging en styl van tabelle, illustrasies, en so meer, vooraf bespreek word: plasing in die teks; byskrifte; hantering van lang aanhalings; ensovoorts.

Wees konsekwent

Plaas die kriterium wat Jan Renkema die “verwaarloosde kriterium” noem, voorop. Vóórdat die teks na die ontwerper gaan. Let reg van die begin af op:

  • verskillende, moontlike, korrekte terme;
  • verskillende, moontlike, korrekte spellings;
  • verskillende, moontlike, korrekte skryfwyses: los of vas; met of sonder ’n koppelteken; met ’n hoofletter of daarsonder …

Kies vir elke teks uit elke stel moontlikhede liefs net een.

As ’n leser in die eerste paragraaf “revolusie” sien en in die tweede “rewolusie”; nou “chronologie”, dan “kronologie”; eers “streskardiomiopatie”, later “gebrokehartsindroom”, skielik “takotsubo-kardiomiopatie”; om die beurt “christen” met ’n kleinletter en “Christen” met ’n hoofletter; “onderwyser” vir ’n onderwyser van die vroulike geslag, later “onderwyseres” … Dan is die kans goed dat inkonsekwenthede mettertyd die leser se aandag van die hoofargument of storie aflei.

Hou in gedagte: As teenstrydighede nie betyds aandag kry nie; as die proefleser as gevolg van die  redakteur se nalatigheid diskrepansies eers op die finale bladsye of skerm moet regstel, word die aanbring van uitgebreide korreksies in dié laat stadium ’n (onnodige) duur en tydrowende proses.

Vir konsekwentheid is die byhou van ’n styllys – deur die skrywer, redakteur en proefleser – noodsaaklik. In die geval van kreatiewe skryfwerk, ’n stylblad vir elke manuskrip afsonderlik.

By koerante en tydskrifte is daar gewoonlik ’n huisstyl, ’n stel huisreëls wat gevolg word, soos die reëls en riglyne wat saamgevat is in Dalene Müller se boek Skryf Afrikaans van A tot Z (SAAZ), wat baie publikasies van Media24 as handleiding vir Afrikaanse taalversorging gebruik.

Maar moenie taalgebruikshandleidings soos SAAZ, ook die HAT Taalgids (Tom McLachlan) en ouer bronne soos Die korrekte woord (H.J.J.M van der Merwe en F.A. Ponelis), Die juiste woord (L.W. Hiemstra), Afrikaans op sy beste (A.F. Prinsloo en F.F. Odendal), Die Afrikaanse woord (Louis Eksteen), Die kennisgids tot moderne Afrikaans (E.P. du Plessis) en ander, met die Afrikaanse woordelys en spelreëls (die AWS) – altyd die nuutste uitgawe (tans die 11de uitgawe van 2017) – verwar nie.

Vir die standaardvariëteit van Afrikaans is die AWS die normeringsbron wat leiding gee oor hoe ons spel en skryf.

Aanvullend tot die AWS word Afrikaanse woordeboeke, beide verklarend en vertalend, en altyd die nuutste uitgawes gebruik, byvoorbeeld die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (die 6de uitgawe van 2015) en die Pharos Engels-Afrikaans-Afrikaans-Engelse Woordeboek (die eerste uitgawe van 2005).

Vir teksredakteurs wat in Afrikaans werk, is aanlyn toegang tot die woordeboekportaal Pharos Aanlyn (NB-Uitgewers) en die woordeboekportaal van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) ontontbeerlik. Ook e-toegang tot die omvattende Woordeboek van die Afrikaanse Taal (die WAT)

Taalgebruiksgidse gee verder leiding en help met konsekwentheid waar daar, by koerante, byvoorbeeld, daagliks, vinnig, met dieselfde soort teks gewerk word.

Maar wees versigtig om nié aan skrywers die huisreëls van ’n spesifieke publikasie op te dwing waar die AWS ’n ruimer keuse toelaat nie.