Geen natuurlike taal is in alle opsigte eensoortig nie. Geen niekunsmatige taal word in alle omstandighede deur al sy sprekers eenders gebruik nie. ’n Taal sonder verskeidenheid, skakerings, nuanses is kleurloos, saai, op die randjie van uitsterwing, op die nipper na dood.
Die woorde wat ons kies, word bepaal deur die situasie, die doel van die kommunikasie, die waarvandaan van die spreker of skrywer en die komvandaan van die hoorder of leser; deur geskiedenis, plek, ouderdom, opvoedingspeil, onderwys, taalkennis, -vaardigheid, -gevoel.
Taalgebruik vind plaas op ’n skaal wat allerhande interessante moontlikhede bied. Aan die een kant, op die verste punt, lê die statiese register: versteende woorde, taalfossiele, ’n droë, vervelige skryfstyl, geykte uitdrukkings, vakterminologie, woorde wat net op papier bestaan, wat omtrent niemand meer gebruik nie. Op die ander punt, aan die teenoorgestelde kant, lê die intieme register, elke individu se persoonlike variant, eie idiolek, huislik, gesellig, innig. Tussen dié twee pole lê die formele; beriggewende, adviserende of konsulterende, opvoedkundige; en informele register, geselstaal, wat soms oorgaan in plat.
Stilistiese variasie word gewoonlik deur die onderskeid formeel-informeel aangedui.
Formeel is amptelik, saaklik, plegtig, word gekenmerk deur voorgeskrewe woorde en frases, maak ’n stywe, dalk stroewe, soms outydse indruk. ’n Staties-formele register is vroeër, ongunstig, kanselarytaal genoem, na die styl wat eens in kanselarye, staatsdienskantore, gebruiklik was.
Party woorde en uitdrukkings is hoofsaaklik formeel (’n aanvang neem, derhalwe, in die eg verbind, kotelet); ander hoofsaaklik informeel (afskop, soentoe, afhaak, bib, Skelmbos, Stellies). Tussen formeel en informeel lê ’n groot groep neutrale woorde en frases wat ewe goed in albei style pas (begin, daarom, trou, tjop, biblioteek, Stellenbosch). Elke sinoniem het ’n ander gevoelswaarde.
Party mense kommunikeer van nature aan die formele kant van die skaal; ander van nature aan die informele kant, of gebruik oorwegend streektaal, of beroepstaal, wat formeel of informeel kan wees. Omdat Engels heeltyd digby is, is die gebruik van Engelse woorde in al die registers aanloklik. Die Engelse woord kom dikwels spontaan. Kodewisseling kom algemeen voor.
By teks wat professioneel versorg word, hou ’n teksredakteur en proefleser ’n oog oor styl en ortografie. ’n Teks wat te formeel of te informeel is, woorde wat alleen in ’n bepaalde streek of vakgebied bekend is, verskillende soorte sleng, of krag- of vloek- of taboewoorde kan sommige lesers dalk vervreem of ontstel. Verskillende style en registers deurmekaar lyk dalk verspot. ’n Oormaat Engelse woorde kan as lui of onverskillig ervaar word. Hiermee moet taalwerkers rekening hou.
Maar nie altyd en oral nie. En nooit op ’n pedantiese, afbrekende, kwetsende manier wat moedertaalsprekers in hul eie taal onseker en ontuis laat voel nie.
’n Gewysigde weergawe van hierdie artikel verskyn op 11 September 2020 in die rubriek Woordwisseling in