In hierdie aflewering:
- Taalbeskouing: Hoe dit nié moet geskied nie
- Toets jou kennis
- Boekaankondigings
Taalbeskouing
In die aanlyn tydskrif vir taal- en letterkundige ondersoek Neerlandistiek lewer Peter-Arno Coppen op 13 Januarie kritiek op ’n taalrubriek in deVolkskrant. Hy noem sy bydrae (ek vertaal): Taalbeskouing vir beginners: Hoe dit dus nié moet geskied nie.
Hoe voorkom ’n mens dat jy ander se taalkeuses gebrekkig of verkeerd beoordeel? Hoe moet taalbeoordeling nié plaasvind nie?
Die inhoud van die koerantrubriek, en wat presies Coppen daarmee foutvind, is nie hier ter sake nie. Van belang is sy kommentaar rakende die stappe wat ’n mens – as jy oor ander mense se taalgebruik oordele wil vel – behoort te volg. Vir die teksredakteur is die drie maatstawwe wat hy neerlê, noodsaaklik. Vry vertaal:
A. Raadpleeg by die beoordeling van enige teks altyd drié bronne (in enige volgorde):
- Die literatuur: woordeboeke, stylgidse, verskillende bronne oor taalgebruik, dit wil sê die reëls – sorg dat jy die reëls ken, of dat jy minstens weet waar om hulle te kry. Die bronne wat jy raadpleeg, sal nie noodwendig altyd die nuutste bronne wees, of almal ewe gesaghebbend nie. Party reëls kan selfs verkeerd wees. Dit maak nie saak nie. As ’n mens elke dag verskillende bronne raadpleeg – in Pharos Aanlyn, in die Virtuele Instituut vir Afrikaans se Woordeboekportaal, in die Hand– en Woordeboek van die Afrikaanse Taal (die HAT en die WAT), kom jy agter dat bronne, nes taalgebruikers, mekaar soms weerspreek.
- Die werklikheid: die taal wat mense regtig gebruik, vandag, in gesprekke, e-posse, geskrewe tekste van allerlei soorte: boeke, koerante, tydskrifte, blogs; die sosiale media.
- Jou eie taalgevoel, én dié van ander: Ontwikkel en gebruik jou gesonde oordeel en verstand. As jy steeds twyfel, vra ander wat hulle taalgevoel is, en luister.
In kort: Slaan na, lees wyd, luister en dink.
B. Sê Coppen: Ondersoek en beskou al drie bronne krities. ’n Bron kan verouderd, of verkeerd wees. Mense maak foute. Taal verander. Heeltyd. Ook jou eie taalgevoel verander oor tyd heen. Niemand se taalgebruik is perfek nie. “Perfekte” taalgebruik bestaan nie. As jy twyfel, móét jy jou bronne uitbrei: méér literatuur raadpleeg, méér voorbeelde van werklike taalgebruik vind, méér, verskillende mense oor hulle taalgevoel raadpleeg.
C. Moenie vinnig oordeel nie: ’n Oordeel gebaseer op ’n enkele bron, of ’n enkele argument, is gewoonlik nie ’n goeie oordeel nie. Taalwerkers en skrywers wat oor ’n lang tyd, lewenslank, dié drie maatstawwe volg, verbeter nie net, algaande, hulle oordeel nie, maar verstaan ook al hoe beter hoe taal werk.
Reg of weg?
Toets jou taalkennis aan die hand van voorbeeldsinne uit die hoofstroommedia en Afrikaanse boeke wat onlangs verskyn het:
- Bekyk hier die sinne wat dié week op ons webblad geplaas is.
- Besluit vir elke sin:
Is alles reg?
Is daar iets waarop jy die skrywer se aandag wil vestig?
Is daar ’n fout, wat jy gewoon sal regmaak? - Nadat jy by elke sin jou keuse aangedui het, sê ons wat ons dink.
Nuut vir naslaan
Tesourus van Afrikaans
In die eerste week van Februarie verskyn ’n nuwe, hersiene uitgawe van die Tesourus van Afrikaans by Pharos, én in Pharos Aanlyn. In die RSG-program Taaldinge het prof. Leon de Stadler, mederedakteur van die nuwe uitgawe, op Sondag 17 Januarie van sy en Amanda de Stadler se werk aan die nuwe tesourus vertel. Hy verduidelik ook wat ’n tesourus is. Luister hier:
Plekname van Suider-Afrika
By Protea Boekhuis is die Afrikaanse vertaling van die hersiene vierde uitgawe van die Dictionary of Southern African Place Names nou beskikbaar (al verskyn dié titel nog nie op die uitgewer se lanklaas bygewerkte webblad nie). Plekname van Suider-Afrika, deur Peter E. Raper, Lucie A. Möller en L. Theodorus du Plessis (ongelukkig alleen in hardeband te kry, so lyk dit) bevat sowat 9 000 inskrywings oor die oorsprong en betekenis van die name van Suid-Afrikaanse dorpe, stede, streke, berge, riviere, en nog meer. Die jongste pleknaamveranderings is ook bygewerk.