Oor die “akrobatiese manipulering van taal” vat ’n teksredakteur onlangs boeke: In Afrikaanse tydskrifte, koerante, voer hy aan, word woorde “wat amper almal sê”, knaend deur ander vervang. Die lys is lank, en hy het gelyk. Elke keer wanneer ’n sub sonder aansien van ritme my “hulle” en “julle” tot “hul” en “jul” verkap, sug ek. Taal is selfs op sy beste nooit suiwer eksak nie.
Is die pop defek, verslete? “Blitskitswinkel”, “skerpskertser”, “jongleer”, “jenewer-en-kinawater”. Gooi dit uit. Maar, asseblief, spaar tog die lewende kinders.
Afrikaans se “blou boeke vol taalmites” weerspieël ’n tyd toe “presisiegebruikers” (Johan Combrink se woord) bewustelik fyner probeer skryf het as praat.
Vir ’n presisiegebruiker word ’n “lewende program” regstreeks uitgesaai, terwyl ’n “lewendige program” vrolik verloop, al is dit ’n opname. Vir ’n presisiegebruiker “blyk” iemand siek te wees as die toestand bevestig is (“blyk” is ’n sekerheidswoord); as siekte vermoed word, “lyk” die persoon siek, of “skyn” sy siek te wees (“lyk” en “skyn” dui onsekerheid aan). “Iemand is blykbaar siek” dui op hoorsê; “iemand is skynbaar siek” beteken die “sieke” bak ’n kluitjie. Vir presisiegebruikers gaan “kritiese” opmerkings altyd met afkeuring – soms onnodig so – gepaard, terwyl “kritieke” opmerkings beslissend en noodsaaklik is.
In die spreektaal, aan die ander kant, loop woorde en betekenisse onvermydelik deurmekaar. As kinders nie vroeg-vroeg leer – geleer word – om met sorg te onderskei nie, gaan hulle dit onwaarskynlik as volwassenes doen. Weer Combrink: “Salig is die armes van woord, want hulle sal, ten spyte van verwardheid, tog bly lewe.” Maar dié onpresiesheid durf nie as rede aangevoer word waarom subredakteurs fyn(er) onderskeidings ook uit die skryftaal moet weer nie.
Elke onderskeidende woord maak van taal ’n skerper instrument.
Taalsuiwerheid kan nooit ’n absolute norm wees nie. Taal is by uitstek demokraties. Wanneer sprekers iets by die naam wil noem en nie dadelik in hul eie taal ’n “suiwer” én bruikbare woord vind nie, gebruik hulle gewoon ’n woord uit ’n ander taal. Al is die ding ook “awesome”, en al is daar in Afrikaans ook tientalle beter beskrywende woorde. Dis onmoontlik om spreektaalvermenging te stuit en niemand behoort op almal één vorm af te dwing nie. Solank dit na weerskante so werk.
“Niemand in my familie- of vriendekring het ’n blou benul wat X beteken nie” is ’n bedenklike barometer vir ’n sub, want daar is ook nog geografiese, sosiolektiese, idiolektiese verskeidenheid.
Spreektaal vloei spontaan. Wat gesê is, is gesê. Jy kan daaroor nadink, maar niks daaraan verander nie. Deesdae lyk skryftaal ál meer op spreektaal. Ons skryf vinniger, gebruik informeler konstruksies, laat woorde weg, kort af. Maar as skryf jou werk is, is dit anders as praat. Dis nie aangebore nie. Hoe dit werk, moet aan kinders eers min of meer verduidelik word.
Die skryftaal parasiteer op die gesproke taal, ja, maar dit bly kunsmatig. En juis daarom – omdat dit ’n kuns is, en een van die mens se grootste prestasies – is dit ’n vaardigheid wat beskerming verdien. En oefening.
Deur jou oë heen en weer oor geskrewe woorde te laat gaan, kyk ’n mens anders na taal, én anders na die wêreld. Soos Charl-Pierre Naudé dit in sy repliek stel: op maniere wat ons uitdrukkingsvermoë en intellektuele weerbaarheid bevorder.
Jana Luther
’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 3 Desember 2020 in die rubriek “Woordwisseling” in .